Browsing by Author "Roodt, Estelle"
Now showing 1 - 2 of 2
Results Per Page
Sort Options
- ItemMa's se persepsies van hoe afknouery gesinne beinvloed(LitNet, 2012-08) Roodt, Estelle; Greeff, Abraham P.Die doel van hierdie verkennende, kwalitatiewe ondersoek was om vas te stel hoe gesinne deur die krisis van afknouery geraak word. Gesinsisteemteorie (Broderick 1993) verskaf die teoretiese raamwerk vir die ondersoek. Die navorsingsvraag vloei logies voort uit gesinsisteemteorie, naamlik: Hoe raak die afknouery van ’n kind ook die ander gesinslede? Die studiepopulasie was gesinne met laerskoolkinders wat vir ses maande of langer geboelie is in die voorafgaande drie jaar, en wat in die Suid-Kaap woon. Agt-en-veertig ma’s het as verteenwoordigers van hul gesinne aan die ondersoek deelgeneem. Elk het ’n biografiese vraelys voltooi en die volgende oop vraag beantwoord: Op watter manier het die afknouery julle gesin geaffekteer? Resultate wat deur middel van inhoudsontleding verkry is, het getoon dat gesinne op verskeie maniere deur die afknouery geraak is. Die kinders wat geboelie is, is veral geaffekteer deurdat hulle negatiewe emosies soos hartseer ervaar het, opstandig geword het by die huis, hulself onttrek het en/of nie wou teruggaan skool toe nie. Die meeste ouers is deur die afknouery geaffekteer deurdat hulle woede of ander negatiewe emosies ervaar het, en/of deurdat hulle bekommerd oor hul kind se welstand en toekoms geword het. Die afknouery het soms gesinne as geheel beïnvloed deurdat dit konflik binne die gesin veroorsaak het, terwyl dit in ander gevalle die gesin nader aan mekaar gebring het. Die bevindinge van hierdie ondersoek vul ’n leemte in die literatuur oor hierdie onderwerp en kan sinvol aangewend word in die ontwikkeling van afknoueryvoorkomings- en intervensieprogramme.
- ItemVeerkragtigheidskenmerke van gesinne waarvan ʼn kind geboelie word(Stellenbosch : University of Stellenbosch, 2011-03) Roodt, Estelle; Greeff, A. P.; Stellenbosch University. Faculty of Arts and Social Sciences. Dept. of Psychology.AFRIKAANSE OPSOMMING: Afknouery is ’n algemene verskynsel onder laerskoolkinders. Alhoewel afknouery dikwels as ’n normale deel van die grootwordproses beskou word, dui verskeie ondersoeke op die negatiewe sosiale, sielkundige en fisiese gevolge wat daarmee gepaard gaan. Wanneer ’n kind geboelie word, raak dit noodwendig die hele gesin. Elke gesin het egter unieke eienskappe of maniere om krisisse (soos afknouery) te hanteer en daarby aan te pas. Gesinsveerkragtigheid verwys na die gesin se vermoë om weerstand te bied teen, en te herstel na, ontwrigtende lewensuitdagings. Die doel van hierdie ondersoek was om vas te stel watter gesinskenmerke geassosieer kan word met goeie aanpassing van gesinne waarvan ’n kind geboelie word. Die studiepopulasie was gesinne met laerskoolkinders wat vir ses maande of langer geboelie is in die voorafgaande drie jaar, en wat in die Suid-Kaap woon. Ma’s het as verteenwoordigers van hul gesinne opgetree en namens die gesinne aan die ondersoek deelgeneem. Agt-en-veertig verteenwoordigers van gesinne het elk sewe selfvoltooiingsvraelyste asook ’n biografiese vraelys met twee oop einde-vrae voltooi. Die resultate van die kwalitatiewe data het getoon dat gesinne veral deur die afknouery geraak is deurdat die kinders wat geboelie is, negatiewe emosies soos hartseer ervaar het. Die meeste gesinne het die afknouery hanteer deur met ’n onderwyser, skoolhoof of die beheerliggaam te gaan praat, of deur raad te gee aan die kind wat geboelie is. Die resultate van die kwantitatiewe data, wat met behulp van korrelasies en regressie-ontledings verkry is, het die volgende gesinsveerkragtigheidskenmerke geïdentifiseer: die kwaliteit van gesinskommunikasie, positiewe kommunikasiepatrone wat omgee en ondersteuning oordra, standvastigheid en duursaamheid van die gesinseenheid, die gesin se gevoel van interne sterk punte, betroubaarheid en die vermoë om saam te werk, die gesin se pogings om vernuwend en aktief te wees, om nuwe dinge te probeer en om te leer, die mate waartoe die gesin roetines gebruik en handhaaf, die gesin se klem op die vasstelling van voorspelbare kommunikasie tussen ouer en kind, die gesin se klem op die vasstelling van voorspelbare roetines om ’n kind se gevoel van selfbestuur en orde te bevorder, asook die gesin se klem op saamwees. Die bevindinge van hierdie ondersoek vul ’n leemte in die literatuur oor gesinne waarvan ’n kind geboelie word. Dit kan nuttig aangewend word in die beplanning en ontwikkeling van intervensies om hierdie gesinne te versterk en meer veerkragtig te maak. Die geïdentifiseerde gesinskenmerke laat ook die moontlikheid oop vir verdere navorsing om hierdie kenmerke in meer besonderhede te ondersoek en te beskryf.