Browsing by Author "Reinecke, Sophie A."
Now showing 1 - 2 of 2
Results Per Page
Sort Options
- ItemBiodiversiteit in landbougronde, volhoubare plantproduksie en die beheer van plantpatogene(AOSIS OpenJournals, 2010-06) Reinecke, A. J. (Koot); Reinecke, Sophie A.Grond is ’n baie heterogene substraat wat ’n omgewingsmatriks daarstel wat in ruimte en oor tyd kan varieer wat betref pH, organiese koolstof, verspreiding van partikelgrootttes en voginoud. Ook chemiese, fi siese en biologiese faktore tree op en grond bevat ’n enorme verskeidenheid van grondlewende ongewerwelde diere en mikrobes wat met mekaar en met die omgewing in wisselwerking verkeer en sodoende plantproduktiwiteit direk en indirek beïnvloed. ’n Oorsig van die meer onlangse wetenskaplike literatuur oor die rol van grondbiodiversiteit dui op die belangrike rol van grondlewende invertebrate, veral erdwurms, om grondeienskappe en ook grondgedraagde patogene te beïnvloed. Erdwurms het in baie gronde ’n kritieke funksie in die regulering van sleutelprosesse wat impakteer op plantproduktiwiteit en die gelyktydige eliminering of teenwerking van grondgedraagde siektes. Die doel van hierdie oorsig is eerstens om by te dra tot die opheldering van die rol wat grondbiodiversiteit in die algemeen speel en om meer in die besonder te fokus op die invloed wat erdwurms het op plantpatogene en parasiete. Getuienis word verskaf dat hierdie diere se aktiwiteit plantproduktiwiteit kan beïnvloed en patogene kan onderdruk. As die aard en omvang van die rol van grondorganismes beter bekend is en dit bevestig kan word dat hulle plantproduktiwiteit bevorder, soos wat baie grondbioloë meen, is die volgende logiese stap om die kennis van hulle ekologie uit te brei en te benut. Deur gunstige omgewingstoestande te skep en te bestuur kan hulle oorlewing en aktiwiteit in landbougronde verseker word. ’n Oorsig word ook verskaf van landboupraktyke wat nuttige grondorganismes bevoordeel. Die oordeelkundige implementering hiervan kan die dienste wat hierdie grondorganismes lewer, beskikbaar stel om agro-ekostelsels te verbeter en volhoubaar te maak. Om hierdie ideaal te kan bereik, moet ’n beter begrip van hierdie organismes se voorkeure, wisselwerkings en verdraagsaamheidsomvange verkry word. Eers dan kan metodes om omgewingstoestande te manipuleer meer algemeen toegepas word om die voordele wat die organismes bied ten volle te benut.
- ItemHou metaalbesoedeling ’n bedreiging in vir die voortbestaan van seesterre in Valsbaai, Suid-Afrika?(AOSIS Publishing, 2013) Reinecke, Adriaan J.; Reinecke, Sophie A.Verstedeliking en industriële ontwikkeling rondom Valsbaai, Suid-Afrika, neem toe en kommer het ontstaan oor die uitwerking van besoedelende stowwe op die tussengetydiere soos seesterre. Die oogmerke van die huidige studie was om voorlopige, beskrywende basislyninligting gedurende die verloop van die onderskeie seisoene in 2000–2001 in te samel oor die metaalvlakke in sediment, water en in die liggaam van ’n gekose kussingseester naamlik Parvulastra exigua (Lamarck, 1816) wat wydverspreid in die tussengetygebied van Valsbaai voorkom. Konsentrasies van kadmium, koper, lood, nikkel en sink is in die water, sediment en die liggaam van die kussingseester by vyf verskillende lokaliteite bepaal oor ’n periode van een jaar. Die monsters is chemies ontleed vir spesifieke metaalvlakke met behulp van atoomabsorpsie-spektrofotometrie. Die hoogste individuele konsentrasies van kadmium (Cd) in seesterre en sediment is by die noordelike kusstreek tussen Strand en Muizenberg gemeet waar die meeste industriële aktiwiteit voorkom. Groot variasie in konsentrasies van alle metale wat ontleed is, het tussen versamelpunte en tussen seisoene voorgekom. Die gemiddelde konsentrasies in die water en sediment was in enkele gevalle effens hoër as die vlakke wat deur die Suid-Afrikaanse waterkwalitetisriglyne aanbeveel word, maar steeds benede die perke wat in verskeie ontwikkelde lande gestel word. Dit dui daarop dat die baai tans nog relatief onbesoedeld deur metale is. Huidige omgewingskonsentrasies in sekere dele van Valsbaai kan met verloop van tyd in tussengetydiere akkumuleer tot nadelige vlakke vir die spesies self, maar ook vir hulle predatore. Hierdie studie bied getuienis dat die kussingseesterre in Valsbaai aan verskeie metale blootgestel word, waarvan sommige potensieel gevaarlik is omdat hulle neig om met verloop van tyd in diere te akkumuleer. Risiko-assessering vereis egter bykomende inligting oor die samehang tussen blootstelling en biologiese effekte op sowel sellulêre, organismiese en bevolkingsvlak alvorens ingeligte besluite geneem kan word of die seesterre reeds sodanig bedreig word dat tussenbeide getree moet word.