Browsing by Author "Greeff, Abraham P."
Now showing 1 - 5 of 5
Results Per Page
Sort Options
- ItemAspekte van gesinsveerkragtigheid in verskillende groepe gesinne(Stellenbosch : University of Stellenbosch, 2011-07) Greeff, Abraham P.; University of Stellenbosch Language CentreOfskoon relatief min navorsing nog oor gesinsveerkragtigheid gedoen is, het navorsers soos McCubbin en McCubbin (1996) en Walsh (2003) uitgebreide teorieë ontwikkel wat met vrug deur navorsers gebruik kan word. Hier word ’n kort oorsig gegee van gepubliseerde ondersoeke na aspekte van gesinsveerkragtigheid in verskillende gesinspopulasies in Suid-Afrika. Bevindinge dui daarop dat sekere eienskappe meestal teenwoordig is om gesinne in staat te stel om by ’n krisis aan te pas. Ander eienskappe blyk weer meer van belang te wees wanneer die bepaalde krisis of die tipe gesin dit vereis. Ten slotte word aanbevelings vir toekomstige navorsing gemaak.
- ItemBruin gesinne se belewenisse van die negatiewe uitwerking van ouerlike alkoholmisbruik(LitNet, 2016-11-09) Van den Berg, Estelle; Greeff, Abraham P.Die doel van hierdie verkennende, kwalitatiewe ondersoek was om vas te stel hoe gesinne deur die probleem van ouerlike alkoholmisbruik geraak word. Die teoretiese raamwerk vir hierdie ondersoek is gesinsisteemteorie, waarvolgens gesinne oop, deurlopende, doelsoekende, selfregulerende sosiale sisteme is wat op hulle beste verstaan kan word in die konteks van interaksies en sisteemverhoudings. Die studiepopulasie was bruin gesinne waarvan ’n ouer alkohol misbruik wat in die Wes-Kaap woon. Hierdie populasie is geteiken aangesien die Wes-Kaap die provinsie met die hoogste voorkoms van alkoholmisbruik in Suid-Afrika is. Om hierdie hoë voorkoms te verstaan, behoort die agtergrond en oorsprong, met spesifieke verwysing na Suid-Afrika se verlede en die sogenaamde dopstelsel, in ag geneem te word. Alhoewel daar reeds kwantitatiewe ondersoeke in verband met alkoholmisbruik in Suid-Afrika gedoen is, is hierdie ondersoek daarop gemik om die persoonlike lewenservarings van gesinne wat elke dag met die probleem van ouerlike alkoholmisbruik saamleef, vas te vang. Dit is verkry deur middel van ’n kwalitatiewe-ondersoek-ontwerp. Verteenwoordigers van 18 gesinne waarvan een of albei ouers vir ses maande of langer alkohol misbruik het, het aan die ondersoek deelgeneem. Inligting is deur middel van semigestruktureerde onderhoude ingesamel en tematies ontleed. Resultate toon dat ouerlike alkoholmisbruik ’n negatiewe uitwerking het op finansies (byvoorbeeld deur geld wat vir die huisgesin bedoel was, op drank te spandeer), die gemeenskap (byvoorbeeld kinderverwaarlosing wat in die gemeenskap voorkom), die gesin in sy geheel (byvoorbeeld gesinslede wat met mekaar baklei), gesondheid (byvoorbeeld ander gesinslede wat spanning ervaar), die huwelik (byvoorbeeld huweliksmaats wat liefdeloosheid in die huwelik ervaar), kinders (byvoorbeeld ’n negatiewe uitwerking op kinders se skoolwerk) en loopbane (byvoorbeeld ’n ouer wat sy/haar werk verloor). Die bevindinge van hierdie ondersoek vul ’n leemte in die literatuur en kan sinvol aangewend word in die ontwikkeling van alkoholmisbruikvoorkomings- en ingrypingsprogramme.
- ItemIntegrating positive psychology principles and exercises into a second-language high school curriculum(Education Association of South Africa, 2018) Gush, Marianne; Greeff, Abraham P.ENGLISH ABSTRACT: This study reports on the development of a textbook for a school subject (Grade 8 Afrikaans second language – an official South African language). A framework for the textbook was developed by drawing from Maslow’s self-actualisation and Hettler’s wellness approaches, and merging these with Seligman’s PERMA and the psychosocial system approach, as well as the 24 character strengths identified by Peterson and Seligman. Positive Psychology interventions were then included systematically to match the existing framework. Positive Psychology therefore provides the framework and context for language learning, which takes place and is possibly even enhanced through the themes and context. Using existing school subjects as a means to provide wellbeing-enhancing activities to learners in a natural, but structured, framework is realistic, as it makes use of existing school infrastructure and staff, while producing what could be a powerful tool to facilitate growth and wellbeing.
- ItemMa's se persepsies van hoe afknouery gesinne beinvloed(LitNet, 2012-08) Roodt, Estelle; Greeff, Abraham P.Die doel van hierdie verkennende, kwalitatiewe ondersoek was om vas te stel hoe gesinne deur die krisis van afknouery geraak word. Gesinsisteemteorie (Broderick 1993) verskaf die teoretiese raamwerk vir die ondersoek. Die navorsingsvraag vloei logies voort uit gesinsisteemteorie, naamlik: Hoe raak die afknouery van ’n kind ook die ander gesinslede? Die studiepopulasie was gesinne met laerskoolkinders wat vir ses maande of langer geboelie is in die voorafgaande drie jaar, en wat in die Suid-Kaap woon. Agt-en-veertig ma’s het as verteenwoordigers van hul gesinne aan die ondersoek deelgeneem. Elk het ’n biografiese vraelys voltooi en die volgende oop vraag beantwoord: Op watter manier het die afknouery julle gesin geaffekteer? Resultate wat deur middel van inhoudsontleding verkry is, het getoon dat gesinne op verskeie maniere deur die afknouery geraak is. Die kinders wat geboelie is, is veral geaffekteer deurdat hulle negatiewe emosies soos hartseer ervaar het, opstandig geword het by die huis, hulself onttrek het en/of nie wou teruggaan skool toe nie. Die meeste ouers is deur die afknouery geaffekteer deurdat hulle woede of ander negatiewe emosies ervaar het, en/of deurdat hulle bekommerd oor hul kind se welstand en toekoms geword het. Die afknouery het soms gesinne as geheel beïnvloed deurdat dit konflik binne die gesin veroorsaak het, terwyl dit in ander gevalle die gesin nader aan mekaar gebring het. Die bevindinge van hierdie ondersoek vul ’n leemte in die literatuur oor hierdie onderwerp en kan sinvol aangewend word in die ontwikkeling van afknoueryvoorkomings- en intervensieprogramme.
- ItemVeerkragtigheid in die enkelma-transrasgesin(LitNet Akademies, 2020) Oosthuizen, Marita; Greeff, Abraham P.AFRIKAANSE OPSOMMING: Die doel van hierdie ondersoek is om gesinsprosesse en -kenmerke wat verband hou met veerkragtigheid in enkelma-gesinne waar ’n kind van ’n ander ras as dié van die ma aangeneem is, te identifiseer en te beskryf. As teoretiese vertrekpunt is ’n sterkteperspektief wat in die positiewe sielkunde gegrond is, gekies. McCubbin en McCubbin (2001) en Walsh (2016) se gesinsveerkragtigheidsteorieë vorm gesamentlik die raamwerk waarbinne hierdie ondersoek beplan en gedoen is. As deel van ’n verkennende navorsingsontwerp is onderhoude gevoer met ses wit vroue wat in die Wes-Kaap woonagtig was en ’n kind of kinders van ’n ander ras aangeneem het. Inligting is deur middel van semigestruktureerde onderhoude ingesamel en die inligting is met behulp van die Atlas.ti-rekenaarprogram (ATLAS.ti.v7, URL 2013) ontleed. Die volgende gesinsveerkragtigheidskenmerke het na vore gekom: Die transrasaangenome kind is goed toegerus met vaardighede om potensiële krisisse rakende sy transrasaangenome status te hanteer; die moeder is voorberei vir moederskap voor die aanneming plaasgevind het; sosiale kontak en die ondersteuning van die uitgebreide familie is vir die gesin van belang; gevestigde gesinspatrone, openlikheid oor die aanneming en die benutting van eksterne hulpbronne help ook die transrasgesin om krisissituasies beter te hanteer. Hierdie bevindinge kan van nut wees en as hulpbronne dien vir potensiële aanneemma’s ten einde hulle voor te berei vir die aanneming van ’n kind van ’n ander ras. Die bevindings verskaf ook belangrike inligting aan ondersteuningspartye (byvoorbeeld die maatskaplike werker) wat betrokke is by transrasaanneming in Suid-Afrika.