Browsing by Author "Pedro, Marne"
Now showing 1 - 3 of 3
Results Per Page
Sort Options
- ItemGefokusde take in die Afrikaans huistaal-klaskamer vir die kommunikatiewe onderrig van Afrikaansgrammatika : 'n eerste verkenning(LitNet, 2021) Fouche, Nadine; Pedro, Marne; Van der Merwe, Michele F.In die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) van Afrikaans Huistaal oor verskillende skoolfases heen, word aangetoon dat die onderrig van grammatika toegespits moet wees op die wyse waarop dit gebruik word om sinvol te kommunikeer (DBO 2011b:11; Adendorff 2017:510). Daar is egter ’n leemte in die riglyne ten opsigte van kommunikatiewe grammatika-onderrig, waarvan Afrikaans Huistaal-onderwysers voorsien word, omdat dit bloot te karig is (Van der Merwe 2014:224). Vervolgens is die doel van ons artikel om ’n werkbare metode voor te stel wat gebruik kan word om grammatika kommunikatief te onderrig, naamlik taakondersteunende taalonderrig, wat berus op die gebruik van gefokusde take, dit wil se take waar grammatikale items kommunikatief ingeoefen word (Adendorff 2017:512). Hierdie metode is geskik vir veral die intermediere en senior fase, waar een uur per tweeweeksiklus aan die formele onderrig van grammatika toegeken word. Ten einde te bepaal hoe geslaagd hierdie metode vir die kommunikatiewe onderrig van Afrikaansgrammatika op huistaalvlak is, is kwalitatiewe, fenomenologiese navorsing onderneem, waar die verskynsel wat ondersoek is kommunikatiewe, taakondersteunende grammatikaonderrig is. ’n Taalonderrigprojek vir onderwysstudente wat Afrikaansonderrig as hoofvak neem, is geloods. Die projek het die volgende behels: 1. Studente het kennis van die kommunikatiewe taalonderrigbenadering en taakondersteunende taalonderrig deur middel van video-opnames, wat op Google Drive gelaai is, bekom. 2. Studente het taakondersteunende lesplanne, wat tydens praktiese onderwys aangebied moes word, saamgestel. 3. Die navorsers het die taakondersteunende lesplanne geassesseer. Die insigte wat ons tydens die assessering van die taakondersteunende lesse bekom het, word gebruik om ’n taakondersteunende grammatikales, wat kommunikatiewe grammatika-onderrig bevorder, voor te stel. Die beginsels van die kommunikatiewe taalonderrigbenadering waaraan dié les voldoen, sluit onder meer in: 1. die bevordering van werklike kommunikasie 2. die gebruik van taal om betekenisvolle opdragte uit te voer 3. die ondersteuning van die leerproses deur gebruikmaking van taal wat as betekenisvol geag word. Daarby toon ons aan dat ’n taakondersteunende grammatikales kan afwyk van die tradisionele voorstel-oefening-gebruik-ontwerp (oftewel VOG-ontwerp), wat normaalweg daarmee geassosieer word, deur ’n alternatiewe lesontwerp voor te stel.
- Item'n Kritiese blik op 21ste-eeuse onderrig en leer deur 'n onderwyser- en leerderbril(LitNet, 2020) Pedro, Marne; Van der Merwe, Michele F.Tegnologie het die potensiaal om te verander hoe daar onderrig en geleer word. Baie navorsers en onderwyspersoneel ondersoek derhalwe doeltreffender benaderings om aan die eise van die 21ste eeu te voldoen en leerders as betrokke, medeskeppers van kennis in die klaskamer te erken. In hierdie artikel ondersoek ons onderwyser- en leerderperspektiewe aangaande ’n 21ste-eeuse taalonderrigruimte deur middel van ’n interpretivistiese gevallestudiebenadering. Die perspektiewe is bekom deur middel van semigestruktureerde onderhoude met agt taalopvoeders, ’n fokusgroep met vier onderwyserdeelnemers en ’n vraelys aan 66 leerders wat deur die betrokke onderwysers onderrig word. Die rasionaal vir die ondersoek is gesetel in ons oortuiging dat die snelle tegnologiese vooruitgang wat so kenmerkend van die 21ste eeu is, dit moontlik maak om vernuwing in die taalklas mee te bring en positief te spreek tot die behoeftes van die hedendaagse leerders wat ons taalklasse bevolk. Om hierdie ideaal te kan verwesenlik moet onderwysers toegerus word om beide moderne opvoedkundige leertegnologieë én tradisionele leerervarings effektief binne die kurrikulum te integreer. Ons het in hierdie studie gevind dat die uiteindelike sinvolle implementering van vernuwende onderrig- en leerpraktyke grootliks by die onderwyser berus. Gevolglik beveel ons aan dat onderwysers deur middel van ’n onder-na-bo benadering by die integrasie van tegnologie in die taalklas betrek word. Ons steun dus ’n skoolkultuur van bemagtiging waar onderwysers as rolspelers in die beleidsintegrasie van onderrigtegnologieë erken word. Samewerkende verhoudings tussen interne en eksterne beleidshervormers, onderwysleiers, praktisyns, leerders en ouerverteenwoordigers sal meer volhoubare en sinvolle beleide vir tegnologie-integrasie oplewer. Uit die onderwyser- en leerderperspektiewe kon ons aflei dat ’n betekenisvolle leerderbetrokkenheid binne die taalonderrigruimte een van die grootste dryfvere vir tegnologie-integrasie is. Onderwysers moet leerders by samewerkende leeroefeninge betrek en tegnologie gebruik om nuwe, voorheen ondenkbare take te skep en om samewerkende, konstruktivistiese en outentieke leerervarings te ondersteun. Die erkenning van onderwysers, leerders en die skoolgemeenskap as kernrolspelers word deur ons beklemtoon as ’n deurslaggewende faktor ten opsigte van sinvolle onderrig- en leerveranderinge vir die 21ste eeu. Ons navorsing berus op die dringendheid om onderwyseren leerderperspektiewe aangaande die gebruik van tegnologie in die klaskamer in die plaaslike navorsingsdomein te erken.
- ItemTaalonderwysers se perspektiewe aangaande vervlegte leer as onderrig- en leerbenadering vir die 21ste-eeuse leerder(LitNet, 2020) Pedro, Marne; Van der Merwe, Michele F.Die fokus van hierdie artikel was op die perspektiewe wat taalonderwysers oor die gebruik van vervlegteleerbenaderings aangaande die taalonderrig van die hedendaagse 21ste-eeuse leerder het. Die twee kernoorwegings wat hierdie navorsing gerig het, was eerstens die beduidende rol wat onderwysers se perspektiewe speel met betrekking tot opvoedkundige hervormingspogings en tweedens vervlegte leer as onderrig- en leerstrategie tot taalonderrig aan die 21ste-eeuse leerder. Met die tegnologiese vooruitgang wat so kenmerkend van die 21ste eeu is, is dit noodsaaklik om die manier waarop mense leer, te herontwerp en te verander. Binne die kontekstuele raamwerk van die 21ste-eeuse klaskamer moet daar in ag geneem word dat tegnologie deel vorm van die hedendaagse leerder se verwysingsraamwerk. Hierdie veranderende opvoedkundige landskap noop die onderwyser om vernuwend na onderrig en leer te kyk en strategieë te ondersoek vir hoe tegnologie op ’n sinvolle wyse binne die kurrikulumraamwerk geïntegreer kan word sonder om die eienskappe van tradisionele leerervarings te ignoreer. Die doel is om uiteindelik ’n positiewe uitwerking met betrekking tot die aard en kwaliteit van die opvoedkundige ervaring in die taalklas te bewerkstellig. Gegewe die deurslaggewende rol wat onderwysers se perspektiewe speel ter verwesenliking van die suksesvolle en sinvolle implementering van vernuwende onderrig- en leerbenaderings, het ons deur middel van ’n interpretivistiese gevallestudiebenadering die perspektiewe van agt taalopvoeders van dieselfde skool, wat tans vervlegteleerbenaderings binne die bestaande nasionale kurrikulum integreer, ondersoek. Die insigte wat deur semigestruktureerde onderhoude en ’n fokusgroeponderhoud verkry is, is volgens ’n inhoudsanalise-benadering ontleed om uiteindelik die hoofnavorsingsvraag van hierdie studie te beantwoord, naamlik: Watter perspektiewe huldig taalonderwysers oor die gebruik van vervlegteleermetodes in hulle klaskamers? Die studie lewer ’n bydrae tot opvoedkundige navorsing deurdat onderwysers se perspektiewe as belangrike oorweging tot suksesvolle opvoedkundige hervormingsbewegings met betrekking tot vernuwende onderrigleerpraktyke, geïdentifiseer word. Verder lewer hierdie studie ook ’n belangrike bydrae ten opsigte van die aanvaarding van tegnologie-gedrewe opvoedkundige praktyke in die plaaslike Suid-Afrikaanse konteks.